Só deel jy jou foto’s

April 5, 2011 by

Só deel jy jou foto’s

EK weet nie vandag werklik waar presies om met hierdie rubriek te begin nie.
Daar is soveel om in te sluit en ek wil ook nie net alles noem en nie genoeg sê nie.
Kom ek begin maar sommer net by ’n punt en dan sal ek in die volgende paar weke hier en daar ander dele bywerk.
Ons geniet dit almal om foto’s te neem. Ons geniet dit net nie altyd almal om voor die kamera te sit nie. Ek was Saterdag so ’n rukkie by ’n troufotografie-werksessie en ek het weer gesien hoe mense hul kreatief kan uitleef wanneer dit by die neem van foto’s kom. Ek dink ek gaan dalk nie nou daarop fokus nie, maar eerder oor wat jy doen nadat jy die foto’s geneem het.
Jy het jou foto’s verwerk en jy is baie trots op jouself omdat jy nou sulke mooi foto’s geneem het. Jy wil dit nou met almal deel, maar jy weet nie werklik hoe en waar nie.
Die maklikste ding om te doen is om ’n blog te skep. Jy kan dit gratis doen by www.wordpress.com of www.blogger.com. Daar is natuurlik ’n magdom ander blogplatforms wat jy kan gebruik.
Indien jy net wil fokus op ’n plek om jou foto’s net in galerye te gebruik dan kan jy van dienste soos www.flickr.com, www.photobucket.com of www.smugmug.com gebruik. Hierdie dienste gee jou ’n gratis opsie en as jy meer wil gebruik, kan jy natuurlik die diens verbeter deur ’n paar rand te betaal.
Die voordeel van hierdie dienste is natuurlik dat jy die galerye saam met jou blog kan gebruik deur net ’n stukkie html-kode te sny-en-plak. Sonder om ’n sent te bestee kan jy ’n baie professionele blog skep deur van hierdie gratis dienste gebruik te maak.
Nico Baird