Lees boeke stukkie vir stukkie

April 1, 2007 by

Lees boeke stukkie vir stukkie

IN vandag se gejaagde lewe is dit baie moeilik om werklik te gaan sit en ‘n boek te lees.

En soms voel dit dat jy tyd mors as jy nie iets lees wat met jou werk verband hou nie.

Ons lees egter elke dag honderde e-posse en daar is altyd tyd om te kyk watter nuwe e-posse vir ons wag.

As ‘n mens nou net die twee kon kombineer.

Wel, jy kan. Een van die nuwe opkomende internet-konsepte of -dienste wat onlangs begin het, maar wat daagliks groei, is DailyLit.com.

Hierdie diens neem die hele boek en deel dit in stukkies op.

Jy ontvang dan elke dag ‘n gedeelte van die boek.

Jy ontvang net genoeg om vinnig nog ‘n stukkie van die boek te lees.

Môre ontvang jy die volgende gedeelte.

As jy op ‘n dag meer tyd het, kan jy ook dadelik vir nog ‘n deel van die boek vra deur op ‘n skakel, in die e-pos wat jy ontvang het, te kliek.

Wanneer jy www.DailyLit.com besoek, kan jy deur die databasis gaan en uit ‘n hele reeks klassieke boeke kies.

Boeke soos Alice in Wonderland, Frankenstein, Sherlock Holmes en Gulliver’s Travels is maar ‘n paar van die boeke wat beskikbaar is.

Jy kies dan die boek uit hierdie versameling wat jy graag wil lees.

Volgende moet jy besluit hoe gereeld jy dele uit die boek wil lees.

Daagliks, net van Maandag tot Vrydag of dalk elke tweede dag? Vul jou e-posadres in en sluit aan.

Jy sal dan op ‘n gereelde grondslag, soos deur jou bepaal, ‘n paar paragrawe van die boek ontvang. Voordat jy dit weet, het jy die hele boek gelees.

Die diens is gratis, so gaan sluit sommer vandag aan en begin jou volgende boek stukkie vir stukkie lees.